“In our law cohabitation does not have special legal consequences. Generally the proprietary consequences and rights flowing from a marriage are not available to unmarried couples, regardless of the length of their cohabitation”
(Geneem uit hierdie uitspraak.)
Baie mense is onder die wanindruk dat indien paartjies vir ‘n aantal jare saamwoon (die aantal jare sal ook verskil van die persoon wat hierdie argument tot sy/haar voordeel wil gebruik) hulle in ‘n “gemeenregtelike huwelik” is. Dit is ‘n hardnekkige mite, waarskynlik omdat sekere ander lande wel ‘n mate van formele erkenning aan verskillende vorme van lewensvennootskappe verleen en iemand dit op ‘n oorseese televisieprogram raakgekyk het.
Maar nie in Suid-Afrika nie – daar is nie iets in ons reg soos ‘n “gemeenregtelike huwelik” nie.
Dit maak nie saak hoe lank julle saamgewoon het nie, of julle verhouding verbreek is en of een van julle tot sterwe kom nie. Nie een van julle het vanselfsprekend enige regte of beskermings soos wat ‘n paartjie in ‘n huwelik of ‘n burgerlike verbintenis geniet nie.
Bo en behalwe die persoonlike nagevolge, kan die finansiële nagevolge aansienlik wees. Ons howe moet al te dikwels hartseer verhale en onaangename dispute aanhoor waar een van die partye behoeftig of haweloos gelaat word, nadat hy of sy en die ander lewensmaat vir dekades saamgewoon het.
Die gevare word deur ‘n onlangse uitspraak van die Hooggeregshof beklemtoon…
‘n Saamwoonverhouding eindig na 22 jaar …
- ‘n Man en ‘n vrou “in ‘n romantiese verhouding” het vir bykans 22 jaar lank as ‘n paartjie saamgewoon, met slegs ‘n kort onderbreking vroeg in die verhouding. Hulle huishouding het ook die vrou se dogter uit ‘n vorige huwelik ingesluit.
- Hulle was gesamentlik betrokke by ‘n aantal sakeondernemings. Dit het onder meer ‘n groenteboerdery (op ‘n plaas wat in die man se naam gekoop is) ingesluit, asook ‘n bakkery, ‘n verpakkingsbesigheid en selfs kommersiële skietwerk.
- Die vraag voor die Hooggeregshof was of die vrou kon bewys dat sy ‘n 50% aandeel in die bates gehad het.
- Die feite is hewig betwis. Die man het volgehou dat die verhouding niks meer as ‘n romantiese saamwoonverhouding was nie. Die Hof het uiteindelik, op grond van die feite wat bewys kon word, beslis dat “die partye bedoel het om hul hulpbronne saam te voeg tot voordeel van ‘n gemeenskaplike boedel”. Die vrou het gevolglik daarin geslaag om die bestaan van ‘n “universele vennootskap” te bewys.
- Sy kon egter nie daarin slaag om te bewys dat sy op ‘n 50% aandeel geregtig was nie. Die eindresultaat was dat sy, op die ouderdom van 47 jaar en na 22 jaar in hierdie verhouding, dit verlaat het met slegs 30% van die netto bates. Dit klink erg, maar daar was ‘n groot risiko dat sy met niks kon wegstap nie. Ons kyk nou na wat ons reg oor sulke verhoudings te sê het.
‘n “Universele vennootskap” is moeilik om te bewys
Die groot uitdaging is dat jy baie meer sal moet bewys as die blote feit dat julle saam woon.
Jy moet ook die bestaan van ‘n “universele vennootskap” bewys, wat aan die elemente van ‘n kommersiële vennootskap voldoen. Soos verskeie historiese sake hieroor illustreer, is dit nie ‘n maklike taak nie. Boonop is die onus (bewyslas) op jou om jou saak te bewys. Jy sal elkeen van die volgende moet bewys –
- Beide die partye het iets tot die vennootskap bygedra of ingebring, of hulself verbind om iets by te dra of in te bring. Dit kan geld of werksvaardighede wees;
- Die besigheid is tot die gesamentlike voordeel van beide partye bedryf;
- Die doel was om ‘n wins te maak; en
- Die vennootskap-ooreenkoms is regsgeldig.
In baie gevalle is daar nie ‘n uitdruklike of skriftelike ooreenkoms tussen die partye nie. Indien jy will steun op ‘n “stilswyende” ooreenkoms (‘n ooreenkoms wat nie uitdruklik gesluit is nie, en wat afgelei word uit die gedrag/handelinge van die paartjie), sal jy ook die volgende moet bewys –
- Die ander persoon was ten volle bewus van die omstandighede wat met die transaksie verband hou;
- Die handeling waarop gesteun word, is ondubbelsinnig;
- Die stilswyende ooreenkoms is nie uitgebrei tot enigiets wat nie deur die partye voorsien of verwag is nie.
Weereens is dit nie ‘n maklike taak om hierdie punte te bewys nie. ‘n “Stilswyende kontrak sal beperkend uitgelê word, aangesien ‘n kontrak uitgelê moet word ten gunste van die persoon op wie daar verpligtinge geplaas word.”
Verder tot bogenoemde, indien een van die partye sterf sonder ‘n testament (wat beteken die persoon sterf intestaat) of ‘n testament wat nie vir die oorlewende voorsiening maak nie, erf die oorlewende niks.
Die goeie nuus – daar is ‘n eenvoudige oplossing…
Hierbo bespreek ons slegs van die finansiële nagevolge van lewensvennootskappe wat nie deur ‘n ooreenkoms gereguleer word nie. Maar ‘n formele huwelik bied ook sekere voordele en beskerming (byvoorbeeld die reg om te erf, ondersteuning en ander persoonlike aspekte van jul verhouding, asook ‘n onderhoudseis op dood of egskeiding) wat nie outomaties beskikbaar is vir partye in ‘n lewensvennootskap nie.
Gelukkig kan jy al die risiko’s en onsekerhede van ‘n ongereguleerde verhouding met ‘n vinnige en eenvoudige oplossing vermy – die partye kan ‘n formele ooreenkoms sluit om hul saamwoonverhouding of lewensvennootskap te reguleer. Hierdie ooreenkoms kan bepaal hoe bates verdeel moet word wanneer die verhouding ontbind en enige verdere voorsiening of verpligtinge wat die partye wil omskryf, byvoorbeeld by wie watter diere moet woon na verbrokkeling van die verhouding.
Maak net seker dat jy dit reeds vroeg in plek stel. Verkry professionele advies (albei van julle – dit is vir beide partye se beskerming!) sodra julle besluit het om julself in ‘n langtermyn verhouding te verbind.
Inhoud verskaf deur LawDotNews © en Faure & Faure Ing. Direkteur, Marelize Meintjes.
Vir meer inligting epos contact@faurefaure.co.za.