Met die huidige heersende droogte in die Wes-Kaap, begin al hoe meer mense hulself te wend tot die boor van boorgate vir die gebruik van boorgatwater vir huishoudelike doeleindes.Die vraag ontstaan egter of ‘n persoon die boorgat by jou plaaslike munisipaliteit moet laat registreer, aldan nie?
‘n Persoon het nie toestemming van jou plaaslike munisipaliteit nodig om voort te gaan met die boor van ‘n boorgat nie, maar let wel op die volgende vereistes met betrekking tot boorgate:
- Indien die waterverbruik binne die perke is, soos uiteengesit in terme van Skedule 1 van die Nasionale Water Wet, Wet 36 van 1998 (hierna verwys as “die Wet”), kan ‘n persoon voortgaan om die boorgat te gebruik sonder enige registrasie;
- Indien die perke soos gestel in terme van Skedule 1 van die Wet oorskry word, word Algemene Magtiging vereis en sal ‘n persoon genoodsaak wees om u waterverbruik te laat registreer; en
- Indien volumes water, hoër as die perke soos gestel in terme van Algemene Magtiging, onttrek word, sal ‘n persoon genoodsaak wees om aansoek te doen vir ‘n waterlisensie.
Die belangrikste kriteria waarvan die publiek bewus moet wees tydens die registrasie van ‘n boorgat, aldan nie, is dat die registrasie van die boorgat meer van toepassing is op die waterverbruik as die boorgat self.
Indien waterverbruik minder is as die perke gestel, soos in terme van Skedule 1 van die Wet, word geen toestemming benodig nie. In terme van die nuwe allokasie sisteem het alle eienaars en/of okkupeerders die reg tot die redelike verbruik van water uit ‘n boorgat wat op daardie grond geleë is. Redelike verbruik word as volg in Skedule 1 van die Wet gedefiniëer:
- Redelike huishoudelike verbruik in ‘n huishouding;
- Nie vir kommersiële doeleindes nie; en
- Die verskaffing van water aan diere wat op die spesifiek grond wei, binne die kapasiteit van die spesifieke grond.
Vir die toepassing van die gemelde perke word daar aanvaar dat indien ‘n persoon meer as 10 kiloliters boorgatwater per dag (10 000 liters/dag) verbruik, daardie persoon die perke van Skedule 1 van die Wet oorskry en in daardie geval moet die waterverbruik geregistreer word.
Indien die waterverbruik bo die perke van Skedule 1 van die Wet is, maar laer is as die Algemene Magtigingsperke, moet ‘n persoon die waterverbruik registreer en aansoek doen vir Algemene Magtiging. Die Algemene Magtiging dien as algehele toestemming en derhalwe is ‘n waterlisensie nie nodig nie. Ongeag voormelde is daar sekere voorwaardes wat van toepassing is.
In die verband sien Staatskennisgewing 399, Staatskoerant 26187 gedateer 26 Maart 2004, asook Staatskennisgewing 970, Staatskoerant 35909 gedateer 30 November 2012 vir die spesifieke limiete wat van toepassing is.
Soos reeds aangedui moet ‘n persoon waterverbruik registreer indien die verbruik meer is as die Algemene Matigingsperke en in hierdie geval sal ‘n persoon moet aansoek doen vir ‘n waterlisensie.
Laastens en in terme van Munisipale by-wette sal ‘n persoon verplig word om aansoek te doen en die boorgat te laat registreer, indien daardie persoon die boorgatwater spesifiek vir huishoudelike doeleindes, soos byvoorbeeld drinkwater, wil verbruik, aangesien die water aan spesifieke standaarde moet voldoen alvorens ‘n persoon hierdie water vir huishoudelike doeleindes kan verbruik.
Vir alle ander doeleindes soos byvoorbeeld die volmaak van ‘n swembad en/of natmaak van u tuin, word registrasie nie benodig nie, solank u binne die perke van Skedule 1 van die Wet is.
Vorms vir die nodige aansoeke kan bekom word by u plaaslike munisipale kantore, alternatiewelik kan u ons kantore kontak by 021-871 1200 ten einde u by te staan met die aansoek prosedures.
Die artikel is geskryf deur Conrad Coetzee, Senior Assosiaat by Faure & Faure Ing.